Preke

 

SKRIFLESING: 

Eksodus 20:13; 21:12-25

Levitikus 19:17-18

Deuteronomium 22:8

Matteus 5:21-25

1 Johannes 3:11-17

Heidelbergse Kategismus S40 V105

        

 

TEMA:             RESPEKTEER MENSLIKE LEWE AS HEILIG!

 

Menslike lewe het baie goedkoop geword

 

AMenslike lewe is deesdae niks meer werd nie! Hulle sal jou vir >n selfoon vermoor!@ Wie van ons het dít nog nie gesê nie? In die lig van al die geweld en bloedvergieting wat om ons plaasvind, kan ons byna nie tot >n ander gevolgtrekking kom nie. Lewe in ons dag het goedkoop geword.

 

Ons het >n baie gewelddadige samelewing geword. Reg word maklik in eie hande geneem. Oral beleef mens aggressie - dikwels aggressie wat nie werklik >n uitlaatklep of geregtigheid kry nie. Geregtigheid is te duur vir die gemiddelde mens. Veronregting lei dus tot woede en bitterheid. En dit bou op en dit bou op - totdat dit op >n dag skielik tot uitbarsting kom en lewe in die slag bly.

 

Daar is ook baie ander dinge wat ons tot hierdie gevolgtrekking lei. Die feit dat aborsie deesdae gewettig is, het ook >n groot bydrae hiertoe gemaak. Die afskaffing van die doodstraf en die gemak waarmee moordenaars na >n paar jaar uit die tronk vrygelaat word, help om >n klimaat te skep wat waarin menslike lewe met groter vrymoedigheid geneem kan word.

 

Daar is  fundamentele faktore wat tot die ontstaan van >n gewelddadige samelewing aanleiding gee. Wanneer wetteloosheid en gebrekkige wetstoepassing en ingewikkelde en duur regsprosesse toeneem, kan jy verwag dat gewelddadigheid en reg-in-eie-hande-neem ook sal toeneem. Wanneer bevolkingsdigtheid toeneem en armoede mense laat meeding vir die beperkte werksgeleentheid, kan mens verwag dat frustrasie en woede ook sal toeneem. Mense beleef mekaar as opposisie wat hulle ellende veroorsaak. En só bou aggressie stadig maar seker op - en iewers sal dit breekpunt bereik, met katastrofiese gevolge.

 

Disrespek vir menslike lewe is niks nuuts nie

 

Waarom het God dit destyds nodig gevind om die 6de gebod in te sluit by sy wet - toe Hy dit by Sinaïberg aan die Israeliete gegee het?

 

Daar was >n baie spesifieke geskiedenis. Reg aan die begin van Eksodus lees ons hoe die Israeliete baie geword het in Egipte, sodat die Egiptiese owerhede hulle as >n bedreiging begin beleef het. Daarom het hulle sekere beheermaatreëls in werking gestel. Die een maatreël was harde slawearbeid. Hulle het seker gehoop dat indien hulle veral die mans só hard kon laat werk sewe dae per week, hulle nie veel krag en energie sou oorhê om nog baie kinders te verwek nie. Slawerny was natuurlik >n stuk geweld wat die Israeliete aangedoen is, waaroor hulle >n gevoel van woede kon opbou oor >n lang tyd.

 

Die ander maatreëls wat hulle getalle moes beperk, was die opdrag dat alle seuntjies wat gebore word, by geboorte reeds doodgemaak moes word. Dit was >n uiterste maatreël wat sekerlik groot woede en aggressie by die Israeliete opgewek het. As gevolg van die slawerny waarin hulle vasgevang was - en as gevolg van hulle eie ongeorganiseerdheid en gebrek aan leierskap en georganiseerde godsdiens, was daar nie veel wat hulle daaraan kon doen nie. Daarom het verbittering en woede stelselmatig onder hulle opgebou, woede wat soms onder mekaar tot uitbarsting gekom het.

 

Moses, wat deur die genadige ingryping van God die menseslagting van die stelselmatige kindermoord oorleef het en in die Farao se huis grootgeword het, het tydens >n verkenningstog onder sy eie mense op >n Egiptenaar afgekom wat >n Israeliet gewelddadig aangerand het. Hy het tussenbeide getree en die Egiptenaar vermoor en onder die sand begrawe. Toe Hy die volgende dag op twee Israeliete afkom wat met mekaar handgemeen geraak het, wou hy weer tussenbeide tree, maar toe vra die een hom of hy hom ook wou vermoor soos hy die vorige dag die Egiptenaar vermoor het. Dis toe dat hy besef dat sy eie lewe nie meer veilig was nie en hy gevlug het na die woestyn in Midian.

 

Ons moet onthou dat die Israeliete wat uit Egipte weggetrek het, nie >n sterk godsdienstige vorming gehad het nie. Hulle was maar >n rowwe spul wat hard grootgeword het - met baie geweld en onreg saam. Daarom is dit ook interessant dat die 10de plaag juis vir die Egiptenaars die dood van al hulle eie eersgeborenes was. Hulle uittog vind plaas  te midde van >n geweldige slagting deur God onder die Egiptenaars. Ons kan seker sê dat die Israeliete se ontstaan as bevryde volk, met >n vlaag van onnatuurlike sterfte gepaard gegaan het. En daarom sou hulle moes leer om  menslike lewe te respekteer as iets heiligs. Omdat hulleself soveel aggressie en bitterheid gehad het, het hulle in Egipte geleer om te haat en lewe nie te respekteer nie. Daar sou van hierdie bagasie ontslae geraak moes word, as hulle die spesiale volk van die Here moes word. Omdat lewe vir God kosbaar is, sou hulle moes leer dat hulle ook menslike lewe sou moes respekteer.

 

Daarom gee God aan hulle die 6de gebod: Jy mag nie moord pleeg nie!

 

God moes sy eerste geloofsgemeenskap reeds geloofsvorming laat ondergaan

 

Dit is insiggewend dat sommer net die volgende hoofstuk (Eksodus 21) reeds toegespits word op die praktiese toepassing van hierdie gebod, wanneer allerlei spesifieke situasies geskilder word - en praktiese wetstoepassing daarvoor verduidelik word. Dit vorm alles deel van die skepping van >n geordende menslike gemeenskap. Een van die basiese voorwaardes vir só >n gesonde menslike gemeenskap was dan dat lewe en regte gerespekteer moes word - iets wat vir hulle op daardie stadium nog vreemd was, omdat omstandighede in Egipte hulle anders geleer het.

 

Hierdie proses van ordening vir >n gesonde menslike gemeenskap het implesiet die boodskap oorgedra dat regstoepassing >n manier is waarop respek vir lewe herstel en gehandhaaf word. Maar dit vind plaas binne die raamwerk van die mense se aanspreeklikheid teenoor God vir hoe hulle teenoor mekaar optree. Hulle verhouding met God - en hulle roeping om sy spesiale volk te wees - verskaf dus die motivering om respek vir menslike lewe in die gemeenskap te herstel. Daarsonder sou hulle hulle eie voortbestaan as volk in gevaar stel.

 

Israel (en ons) moes verstaan dat die 6de gebod lewe moet beskerm

 

Iets wat mens ook opval wanneer jy só deur die spesifieke maatreëls rondom die 6de gebod lees, is die feit dat daar in Deuteronomium 22:8 gesê word dat wanneer hulle >n huis bou, hulle >n reëling rondom die dakstoep moes aanbring, sodat hulle nie iemand se dood deur >n gebrek aan veiligheidsmaatreëls veroorsaak nie. Dit maak al klaar duidelik dat daar rondom die 6de gebod ook voorkomend gedink moes word. Respek vir en verantwoordelikheid vir die beskerming van menslike lewe moes hulle dus lei om praktiese dinge te doen om lewe te beskerm. Hulle kon nie langer onverantwoordelik in verband met menslike lewe en welsyn optree nie. Hulle moes aktief vir die beskermiing daarvan verantwoordelikheid neem.

 

Daarom maak dit ook net sin dat reeds in Levitikus 19:17-18 daar reeds gesê word dat haatdraendheid en wraakgedagtes ook nie strook met respek vir menslike lewe nie. Daar moet eerder vir versoening geywer word. Liefde vir die naaste tree voorkomend op. Dit tref gepaste maatreëls vir die beskerming van sy lewe - en dit laat geen verkeerde gesindheid wat tot wraak en geweld kan lei in die binneste toe nie. Dit vervang die kwaad met die goeie. Die gesindhede wat van jou >n moordenaar kan maak, moet dus vroegtydig by die wortel afgesny word - en met iets baie meer positief vervang word.

 

Jesus neem gehoorsaamheid aan die 6de gebod ook terug tot die lewe hierbinne

 

Wanneer Jesus in die bergrede oor die 6de gebod praat, dan doen Hy eintlik dieselfde as wat Levitikus 19 doen: Hy wys uit dat selfs net die verkeerde gedagtes en gesindheid >n oortreding van die gees en bedoeling van die 6de gebod is. Selfs net wanneer jy vir iemand sê :@jou dwaas@ is jy al skuldig aan oortreding van die 6de gebod. Selfs net wanneer jy vir iemand kwaad is.

 

Daarom wys Hy uit dat jy selfs jou aanbidding van God (jou deelname aan die erediens) behoort op te skort sodat jy eers kan gaan versoening bewerk met die een met wie jou verhouding versteur is. Jou aanbidding van God en jou deelname aan die erediens kan nie integriteit hê solank jy nie jou medemenslike verhoudinge regstel nie. Dit is wat liefde vir die naaste doen. Dit is wat gehoorsaamheid aan die 6de gebod doen: Dit streef aktief na versoening met die medemens - om só nooit die gesindheid van haat en aggressie teenoor die medemens te ontwikkel en sodoende jou respek vir menslike lewe te verloor nie.

 

Laat daar geen twyfel daaroor wees nie: Enige gesindheid teenoor iemand anders wat nie liefdevol en vergewend is nie, is vir >n volgeling van Christus taboe. As jy griewe hierbinne koester, as jy iemand met >n gevoel van bitterheid vermy, maak jy jou klaar skuldig aan >n vergryp aan die 6de gebod. Jy saai dan reeds die saad van vervreemding en haat wat jou >n potensiële moordenaar maak.

 

Ons respek vir die lewe van >n mens wat na die beeld van God geskep is, moet ons in liefde aktief na versoening laat soek.

 

Verdra liewer onreg eerder as om vergelding te soek

 

Die apostel Paulus vermaan die gelowiges in Korinte wat in onenigheid met mekaar lewe en hofsake teen mekaar aangaan: AEintlik is julle saak al klaar verlore, omdat julle hofsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer tekort doen nie? In plaas daarvan pleeg julle onreg en doen ander tekort - en dit doen julle aan medegelowiges@ (1 Korintiërs 6:7-8). Hy wil dus sê dat ons eerder onreg moet ly as dat ons in gedinge met mekaar betrokke moet raak. Die gees van versoening en liefde in ons moet ons eerder ons eie regte laat opsê ter wille van versoening en vrede - as dat ons teenstaanders van mekaar word wat ons regte opeis en onsself laat geld.

 

Dit is presies ook maar wat Jesus ook bedoel het toe Hy in Matteus 5:38-40 gesê het: AJulle het gehoor dat daar gesê is: =>n Oog vir >n oog en >n tand vir >n tand.= Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen >n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. As iemand jou hof te wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere@. Die gedagte is dan dat die vergeldingsdrang wat >n mens so dikwels in >n spiraal van wraak en weerwraak intrek - en na geweld, onreg en moord lei, reeds by die wortel afgesny moet word, juis deur die kwaad te absorbeer en te weier om aan die dinamika van veronregting en geweld deel te neem - selfs al is dit ten koste van jouself en jou regte!

 

Hoe lyk jou lewe en ingesteldheid?

 

Het jy dalk die gesindheid van >n selfgeldende wetsoortreder in jou? Koester jy dalk griewe en bitterheid in jou binneste teenoor iemand anders wat na die beeld van God geskape is - en vir wie Christus sy lewe aan die kruis afgelê het? Is jy iemand wat toelaat dat jou bitterheid jou van >n ander kind van die Here vervreem? Is jy iemand wat gedurig fokus op die onregte wat jou aangedoen word en in jou verbeelding weerwraak uitoefen? Is jy iemand wat verwag dat die ander party eers na jou toe moet kom om >n onenigheid uit die weg te ruim - eerder as dat jy die inisiatief daarmee neem?

 

As jy dalk só is en só optree, dan flirteer jy met >n gees wat jou >n moordenaar wil maak. Ons is geroep om die kwaad met die goeie te oorwin. Moenie dat só >n gees >n houvas oor jou kry nie. Só gee jy aan die duiwel >n vastrapplek in jou lewe. Só skep jy vir hom ruimte om jou lewe in sy mag te kry. Só stel jy jouself - en die gemeenskap van die heiliges - in gevaar. So ondermyn jy die kerk se integriteit en getuienis in hierdie wêreld waar ons veronderstel is om die magte van die dood te beveg.

 

Die Here wil dat ons die wêreld >n bietjie meer soos die hemel sal maak. Maar as ons die gesindhede koester wat aggressie en bitterheid in ons lewe ruimte gee, dan maak ons die wêreld >n bietjie meer soos die hel.

 

Die positiewe uitlewing van die 6de gebod vra selfverloëning

 

Ek sal dit geredelik toegee: dit is nie maklik om altyd te vergewe en goedgesindheid te openbaar nie. Dit is nie maklik om ons binneste skoon te hou, vry van bitterheid en woede nie. Want dit vra selfverloëning. En selfverloëning was nog nooit maklik nie. Maar daar is nie >n ander uitweg nie. Soos Christus wat sy lewe vir ons afgelê het, sal ons ons lewe vir mekaar moet aflê.

 

Selfverloëning is juis nie in stryd met die 6de gebod nie! Want dit skep lewensruimte vir medemense - soos wat Christus se aflegging van sy lewe vir ons lewensruimte geskep het.

 

Slegs God beskik finaal oor menslike lewe

 

Natuurlik is dit nie reg wanneer ander mense ons benadeel en misbruik nie. Natuurlik is dit nie reg wanneer ons geweld aangedoen word nie. Maar die reg om wraak te neem en te vergeld, kom ons nie toe nie. Net die Gewer van menslike lewe het daardie reg. Ons mag nie God speel teenoor ander mense nie - selfs al doen hulle ons skade of geweld aan. As mense wat deur God uit die Egipte van slawerny aan die dood verlos is, moet ons aan die kant van die lewe staan - selfs al moet ons soos Christus van onsself vergeet en ons regte opsê.

 

Soos die apostels sal ons seker ook kan sê: Maar dit is onmoontlik! Maar saam met Christus sal ons ook moet sê: Wat vir mense onmoontlik is, is vir God moontlik. Hy bewerk die wedergeboorte. Hy gee >n nuwe lewe. Hy stel ons in staat om heilig te lewe. Sy Gees help ons om onsself te verloën en aan die kant van die ware lewe te staan.

 

Mag die Here gee dat ons wat onsself Christene noem, volgens die gees en bedoeling van die 6de gebod, altyd lewebeskermend en lewebevorderend sal optree - al vra dit van ons om soos Christus van onsself te vergeet!

 

Amen.

 

 

As jy meer wil weet, lees Goeie Nuus ...

 

 

Kontak my gerus as jy behoefte het aan ‘n gesprek :

 

DS GERT BADENHORST

Epos: gerba@absamail.co.za

 

16 Oktober 2005